WHAT WE DO

SHOP

DONATE

WHAT WE DO

OUR STORIES

VAN BRANDARM MATRIKULANT TOT

KORPORATIEWE PRINSES

Mmapula Moepya (28) is vandag die toonbeeld van ’n suksesvolle vrou wat haar toekomsideale verwesenlik. Maar sy ken swaarkry, en daarom is haar hart en hande oop om nie net te droom nie, maar ook te doen...

My keel trek toe terwyl ek na die kalender kyk. Ek het matriek goed geslaag, selfs twee onderskeidings losgeslaan. ’n Sterstudent. Maar waarvoor? Ek het met soveel hoop aansoek gedoen om verder te studeer, en nou moet ek magteloos toekyk hoe die sperdatums vir betaling een na die ander kom en gaan. Daar is nie geld nie. My ouers kan nie betaal nie, al wil hulle ook hoe graag.

Dis aaklig, die besef dat jare se toewyding, Al my drome, op niks gaan uitloop nie. Wat gaan ek doen? As ek terugkyk, onthou ek my grootwordjare as gelukkig en gemaklik. Ons het in ’n mooi, ruim huis gebly. Ek en my vier broers en suster kon die lewe geniet, sonder om ooit bekommerd te wees oor die toekoms.

Maar in my matriekjaar gebeur die ondenkbare. My pa verloor sy besighede, en ons verloor alles: geld, huis, gerief, standvastigheid. In ’n oogwink was alles anders. Ons moes na ’n kleiner huisie trek wat voorheen as ’n stoorplek gebruik is. Wanneer die skool op uitstappies gegaan het, moes ek agterbly omdat ons dit nie kon bekostig nie. Skielik moes ek ook leer om die kinders se geterg tehanteer: “Mmapula-hulle het nie geld nie...” Dit was pynlik. Ek kon nie sin maak

"Deur op God te vertrou het ek baie meer gekry as wat ek verwag het"

 uit wat gebeur het nie.

Waar ons voorheen as Christen-gesin gereeld kerk toe gegaan het, het ons kerkbesoeke nou gestaak. Miskien was ons kwaad en teleurgesteld in die Here. Waar was Hy? Hoe kon Hy dit toelaat? Nogtans het ek vasgebyt met my skoolwerk. Ek wou ’n goeie matriek hê, iemand word. Dalk ’n TV-aanbieder, ’n motiveringspreker of ’n mentor wat jongmense in die gemeenskap kon help om hulle potensiaal te verwesenlik. Maar nou, met my matrieksertifikaat in die hand, kon ek nie eers my eie potensiaal verwesenlik nie!

Ek het ’n maand lank by die huis gesit. Dit het gevoel of elke moontlike deur in my gesig toeklap, tot die dag dat ’n familielid my kom vertel het van POPUP (People Upliftment Programme) — ’n niewinsgewende organisasie wat fokus op die opheffing van minderbevoorregtes. Dit was ek.

Ek het hulle dadelik gebel, en gou was ek gratis geregistreer vir een van die opleidingsprogramme. Wat selfs ’n groter impak gemaak het, was POPUP se lewensvaardigheidskursus wat ek vooraf moes bywoon. Dit het my weer herinner wie Hy is, en ek in Hom. Daar het ek besef dat Hy soms moeilike omstandighede toelaat juis om ons nader aan Hom te bring.

Ek moes van voor af leer om op die Here te vertrou: om rustig te raak en te glo dat Hy in beheer is, al verstaan ek nie die struikelblokke nie.

My vertroue het ’n oorvloed vrugte afgewerp. Ek het ’n internskap by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad gekry en binne ’n paar maande is ek permanent aangestel. Deur op God te vertrou het ek baie meer gekry as wat ek verwag het. Die uitsiglose matrikulant van destyds het plek gemaak vir iemand wat weer met oorgawe kon glo, hoop en droom. Hy het alles in my lewe kom herstel.

My swaarkry het my ook meer as ooit bewus gemaak van ander se nood. Dis my passie om ’n verskil te maak. Deur die Donate a Can-projek spoor ek jongmense aan om blikkieskos vir hulpbehoewende gesinne in te samel. Ek is ook ’n mentor vir ’n paar jonger meisies in ons gemeenskap en het selfs ’n dansbediening by die kerk begin.

Op my Facebook-blad het ek geskryf: “I see an open door in every mountain.” Ek bedoel elke woord!

FACEBOOK

CONTACT DETAILS:

 

Salvokop Centre (Head Office)

Phone:  +27 12-003-2008

 

Soshanguve Centre

Phone:  +27 81-283-4400

TESTIMONIES

Privacy Policy

2017 © POPUP • All Rights Reserved.

Website Designed by TOM Design

Website hosted by Creative Side Digital Solutions